Wanneer Allies net in Naam bestaan
Dis maklik om te sê jy’s ’n "ally". Dis maklik om jou steun uit te roep, om ’n vlaggie op jou profile op "Instagram" of "Facebook" te sit, of vir my te sê jy’s aan my kant. Maar as dit by die regte effort kom – die luister, die ongemaklike vrae, die bereidheid om my realiteit van binne te ervaar – dan voel dit baie keer of daai allyship net in naam bestaan.
Ek is transgender. My lewe kom met ’n klomp daaglikse goed wat jy nie altyd kan sien nie. Dis die judgment van mense se oë, die ongemak in ’n gesprek, die konstante werk om myself te bevestig, 'n stryd met liggaam wat nie lyk of voel soos my eie nie, die skade van testosteroon vir iemand wat later in die lewe die pad van transisie aangepak het en vir myself die gevoel dat ek nooit sal pas nie. Dis soos om 'n berg op jou skouers te dra en dit word nooit afgehaal nie, dis altyd daar. En wanneer ek dit deel, hoop ek my naaste mense sal dit saam met my dra. Maar te veel keer gebeur die teenoorgestelde – ek eindig op as die een wat húlle ongemak moet dra.
Die swaar van stiltes
Daar was tye waar ek iets diep persoonlik gedeel het – en al wat ek terugkry, is stilte. Of ’n vinnige “ja maar almal voel soms so”. Vir my is dit nie net ’n klein ding nie. Dis my lewe, my stryd. En daai soort afmaak laat my voel ek is onsigbaar.
Ek het nog altyd die een was wat luister. Ek absorbeer ander se pyn, ek dra ander se vrese. Ek’s altyd die een wat almal se “okay” moet dra, selfs as ek self nie okay is nie. Ek’s ’n empath – dis deel van my wiring. Maar dit het ook gemaak dat mense dink ek’s altyd fine en dat ek altyd in beheer is. Dat ek nie my eie "struggles" dra nie. En dit maak my moeg, hartseer en soms jaag dit my angs aan en kan my na 'n depressie "spiral" druk. Dan maak dit vir my na aan onmoontlik om daardie "stable force" vir ander te wees.
Allyship is meer as woorde
Om te sê jy’s ’n ally is nie genoeg nie. Dit’s nie ’n badge vir jou bio nie. Dis iets wat jy moet wys. En dit beteken jy moet bereid wees om ongemaklik te voel, en steeds by my te bly sit, te verdedig wanneer die "snickers" kom en soms my "shield" te wees nes ek probeer wees vir ander. Om dit nie altyd te ervaar nie, beteken dat ek in my ou vel moet inklim om veilig te voel, iets wat my sosiale transisie so stadig laat loop en keer dat ek die selfverstroue bou wat ek sal nodig hê vir die pad vorentoe.
Wat beteken dit regtig?
- Luister – regtig luister – sonder om jou eie stories bo-oor te gooi.
- Vra jouself: “Hoe kan ek jou dra?” eerder as “Hoe pas dit in my lewe?”
- Wees teenwoordig, al verstaan jy nie alles nie.
- Wees pro-aktief, probeer leer oor wat dit beteken om in die skoene van 'n transgender persoon te staan en verstaan party trans mense ervaar meer struggles as ander. Daar is so baie "resources", dis waar ons leer.
- Moenie wegkyk nie. Soos dinge nou lyk in die wêreld op die oomblik, ons word beskou as "evil" en die oorsaak van alles wat verkeerd is, al is dit in Amerika, dit bepaal almal se realiteit, ek sien dieselfde goed in ander lande nou ook probeer. In Suid-Afrika moet ons beter probeer wees, al is dit net ek wat so voel.
’n Afrikaanse stem
Ek weet ek’s nie alleen nie. Ander trans mense ervaar dieselfde – veral in Afrikaans, waar ons stories skaars gehoor word. Hierdie is die begin van iets groter: om ons stories in ons eie taal te vertel. Want ons bestaan, ons voel, en ons praat ook Afrikaans.
Afsluit
Ek vra nie vir heroïese dade nie. Ek vra net: wees daar. Wees regtig ’n ally, nie net in naam nie. Want woorde klink mooi, maar hulle tel niks. Dade tel. Teenwoordigheid tel. Kennis tel, want sonder kennis is allyship net ’n leë woord.
💡 Hierdie is die eerste in ’n reeks onder die "Hashtag" van #TransInAfrikaans. My hoop is dat ander trans mense dit ook kan gebruik – om hul eie stories te deel, of om vir hulle allies te wys wat ons rêrig nodig het.